Man by bank oorval en ontvoer
2011-12-06 09:02
Sasolburg – “Ek het gedink ek is dood – veral toe een ’n 9 mm-pistool teen my kop druk.”
Só het ’n 62-jarige man van Sasolburg Maandag gesê nadat gewapende rowers hom vroegoggend buite ’n bank op die dorp oorval, ontvoer en in ’n veld buite die dorp gelos het.
Die rowers het met R23 000 gevlug.
Hugh Butler het net ná 09:00 geld by ’n bank op die dorp getrek.
“Ek werk in Mosambiek en het geld gaan trek vir my vrou vir Kersfees en ook om my motor te versien.
“Ek het by die bank uitgestap toe ’n man my nader en vra om hom te help.
“Hy het by ’n boom gestaan, ’n rol note vir my gewys... en daarna onthou ek niks,” het Butler vertel.
Hy was bewusteloos en het glo in die rowers se motor bygekom.
“Iemand het op my kop gesit. My gesig is in die bank ingedruk.”
Hy het weer sy bewussyn verloor.
Butler is in ’n veld langs die R57 by die Jan Haakweg-afrit buite Sasolburg afgelaai.
“Een van die rowers het ’n 9 mm-pistool teen my kop gedruk. Ek het gewag vir die skoot; niks het gebeur nie.”
Die mans het met sy geld en beursie gevlug.
Simon Malgas het op Butler afgekom.
“Ek het glasbottels in die veld gesoek en het iemand gehoor roep en gaan kyk. Die man was vasgebind.
“Ek het pad toe gehardloop en iemand voorgekeer om te kom help,” het hy gesê.
Butler se gewrigte en enkels is gekneus waar hy vasgebind was.
Paramedici van Netcare 911 het Butler op die toneel behandel.
Die polisie ondersoek die saak.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad