Man betaal R160 000 om vrou terug te kry
2012-02-25 10:01
Bloemfontein – ’n Man wat bitter graag sy vervreemde vrou wil terughê, het geval vir die slenters van ene “dr. Wanda” en “dr. Fako”, wat adverteer dat hulle enigiemand se probleme met kruie en gebede kan oplos.
Nou is Pieter Nieuwenhuys (55) nie net sy vrou kwyt nie. Hy is uit R160 000 se geld en goedere bedrieg, waaronder twee motors en sy meubels.
’n Baie tranerige Nieuwenhuys het gister gesê hy het sy voormalige vrou, Theresa (42), nog innig lief.
Dit is juis daarom dat die hoop opgevlam het toe hy die advertensie van “dr. Wanda” en “dr. Fako” in koerante gesien het.
Nieuwenhuys het gesê die twee “dokters” het hom soos ’n koei gemelk.
“Ek moes heeltyd net nog geld in hul rekenings inbetaal sodat die kruiemedisyne, gebede en ander spirituele kragte kon werk sodat my vrou huis toe kan kom.
“Ek het naderhand al my meubels in ons mooi huis in Benadérylaan gaan verpand om nog geld in die hande te kry.
“Daar was stadiums dat die ‘dokters’ gedreig het dat hulle my huis gaan afbrand as ek nie nog geld gee nie.
“Elke keer was daar amper ’n deurbraak dat Theresa huis toe gaan kom, maar nog net ietsie wat keer dat dit gebeur.
“Ek is nou uit alles uit.
Nieuwenhuys was ’n motorwerktuigkundige en het sy eie letterskryf- en motorversieningsondernemings besit.
“Dit is nou alles daarmee heen. Ek doen nou net los werkies.”
Sy eerste vrou, Suzette, en hul twee maande oue baba, Charles, is in 1979 in ’n motorongeluk dood, sê hy.
Hy het Vrydag bedrogklagte teen die twee “dokters” by die polisie ingedien.
Theresa Nieuwenhuys, ’n verpleegkundige, het gesê sy gaan beslis nie terug na hom toe nie: “Al staan hy op sy kop. Hy betaal nie eens die onderhoudsgeld wat hy moet gee nie. Hy is glad nie so ’n engeltjie as wat hy voorgee nie!”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad