Man beseer tydens kaping in Noordwes
2012-01-05 15:00
Johannesburg – ‘n Man is Woensdagaand beseer tydens ‘n kaping in Mothotlunng buite Brits, het die Noordwes se departement van openbare veiligheid gesê.
Drie gewapende mans het die man in se Citroen sedan voorgekeer en hom in die bors geskiet, waarna hulle hom omstreeks 21:40 agter in die motor gelaai het, het woordvoerder Lesiba Kgwela in ‘n verklaring gesê.
“Die verdagtes – wat gesukkel het om die motor te bestuur – het glo beheer oor die voertuig verloor voordat dit in die huis agter die Lutherse kerk vasgery het.”
Niemand in die huis is beseer nie.
Die kapers het per voet van die toneel gevlug.
Die beseerde man is na ‘n hospitaal geneem. Sy toestand was nie onmiddellik bekend nie.
Desbo Mohono, LUR vir openbare veiligheid in Noordwes, het ‘n beroep gedoen op die publiek om na vore te kom as hulle enige inligting het wat na die inhegtenisname van die kapers kan lei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA