Man R50 000 beboet vir k-woord
2010-10-22 14:41
Johannesburg – ‘n Man van Oos-Londen het geappelleer nadat die hof beslis het dat hy ‘n boete van R50 000 moet betaal omdat hy ‘n kroegman glo ‘n “k*ffir” genoem het, het die Dispatch Online Vrydag berig.
Mervyn Beling, ‘n lid van die Cambridge Sportklub, het glo in Januarie 2003 voor ander kliënte ‘n rassistiese benaming gebruik vir die voormalige kroegman, Richard Bongani Tshongwe.
Beling het homself Donderdag in die Oos-Londense burgerlike hof verteenwoordig, waar hy appèl aangeteken het teen landdros Abel Mdalana se beslissing.
Beling het ‘n skikking van R25 000 aangebied nadat Mdalana vroeër beslis het dat Tshongwe R30 000 betaal moet word vir skending van sy waardigheid en R20 000 vir pyn en lyding.
Beling het aan die hof gesê dat hy nooit ‘n dagvaardiging van die balju ontvang het nie en dat hy geen kennis gehad het van Mdalana se beslissing nie, aangesin dit in sy afwesigheid gemaak is.
Hy het ontken dat hy Tshongwe ‘n “k*ffer” genoem het.
Die saak is uitgestel na 29 Oktober.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA