Man (60) gekaap, ontvoer, beroof
2011-04-25 17:52
Johannesburg - ‘n Sestigjarige man is Maandag in Despatch gekaap en beroof terwyl hy met ‘n vrou wat hy pas ontmoet het, gesels het, het die polisie gesê.
Volgens lt. kol. Priscilla Naidu het die man in sy wit Mercedes-Benz gesit en gesels met ‘n vrou wat hy pas ontmoet het toe ‘n onbekende man hom genader en vir geld gevra het.
Vier ander mans het toe aangekom en messe uitgehaal.
Die twee is deursoek en van R700 en bankkaarte beroof.
Die man is toe beveel om op die agterste sitplek te klim.
Twee van die rowers het in die motor geklim en gery totdat die petrol opgeraak het.
Die slagoffer is toe in die motor se kattebak gedruk. Die twee mans en die vrou het verdwyn.
Die beroofde man het daarin geslaag om een van die motor se agterste ligte uit te skop en sy hand uit te steek. ‘n Motoris wat verby gery het, het dit gesien en die polisie gekontak.
Naidu het gesê die polisie vermoed die vrou was ook by die kaping betrokke.
“Ons vermoed dat sy deel daarvan is, aangesien die slagoffer haar pas ontmoet het en haar nie regtig goed geken het nie.”
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van motorkaping.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA