Man (25) kritiek ná Sunninghill-ongeluk
2011-10-08 23:00
Johannesburg – 'n Man (25) is in 'n kritieke toestand in die hospitaal nadat sy taxi Saterdagmiddag met 'n Nissan Navara op die R55 naby die Maxwell-rylaan in Sunninghill gebots het.
Paramedici by die ongelukstoneel het gesê die bestuurder is gevind waar hy 'n paar meter ver van die taxi-wrak gelê het.
Ooggetuies het gesien hoe hy uit die voertuig geslinger word.
'n Medikopter van ER24-nooddienste het die man, wat eers gestabiliseer moes word, na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem.
Nooddienspersoneel het gesê teen die tyd wat hulle by die ongelukstoneel opgedaag het, is die insittendes van die Nissan Navara, blykbaar 'n man en jong vrou, reeds deur 'n onbekende voertuig na die hospitaal geneem.
Die oorsaak van die ongeluk is nie duidelik nie en sal deur die polisie ondersoek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA