Man (20) verdwyn in see
2010-02-05 03:46
Johannesburg – ‘n 20-jarige man van Pacaltsdorp is vermis nadat hy en ‘n vriend Donderdag in Wildernis gaan swem het, het die Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
Die man en sy vriend het glo omstreeks 12:37 gaan swem toe hulle deur sterk onderwaterstrome die see ingetrek is naby die Gwaing-riviermond.
“Die vermiste man se vriend het die voorval oorleef sonder enige beserings,” het Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, gesê.
Die NSRI, polisie, metro-redding en die Rooikruishelikopter het almal deel uitgemaak van die soektog na die jong man.
Polisieduikers sal die soektog Vrydagoggend voortsit.
– Sapa