Malema 'wou nie aanstoot gee'
2011-10-20 18:58
Johannesburg – Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga, het nie bedoel om aanstoot te gee nie toe hy die woord “makula”, wat “koelie” beteken, gebruik het, het die ANCYL Donderdag gesê.
“Die ANC-Jeugliga verstaan en waardeer dat sommige lede van die samelewing die boodskap anders sou verstaan,” het die liga in ‘n verklaring gesê.
Luidend die verklaring het Malema se opmerkings Woensdag gehandel oor geïntegreerde nedersettings en die samelewing tussen Indiërs en swartmense.
“Die ANCYL sal dus nie die woord ‘makula’ gebruik om na Suid-Afrikaners van Indiese afkoms te verwys nie, aangesien ons waardeer en erken dat dit nie ‘n gepaste woord is nie,” het die verklaring gelui.
Die ANCYL het erken dat Malema die woorde “bana ba lena ba tshwanetse ba dumelelwe gore ba tsene sekolo le bana ba makula mona” gebruik het toe hy inwoners van Thembelihle, suid van Johannesburg, toegespreek het.
“Dit was op geen manier bedoel om aanstoot te gee of afbrekend te wees nie.”
Twee koerante, Business Day en die Times, het dit vertaal as: “Jul kinders moet nie toegelaat word om skool toe te gaan met koelie-kinders nie.”
Dié uitspraak is met woede en ontsteltenis ontvang.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANCYL, het gesê die liggaam se toewyding tot nierassigheid is nog ongekskonde en dat dit nooit “ondermyn sal word deur die uitsprake nie”.
Hy het gesê die ANCYL se massa-optogte in Johannesburg en Pretoria op 27 en 28 Oktober gaan steeds voort.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA