Malema wil na hoogste hof gaan
2011-10-03 08:02
Johannesburg – Julius Malema, die ANC-jeugleier, en die ANC het ’n dringende aansoek ingedien vir verlof tot regstreekse appèl by die konstitusionele hof teen die gelykheidshof se bevinding dat die lied waarin die frase “skiet die Boer” voorkom, haatspraak is.
Die aansoek is vergesel van beëdigde verklarings van Malema en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC.
In sy verklaring voer Malema aan regter Colin Lamont se uitspraak in die saak is “ongekend en gee aanleiding tot ernstige probleme met die Grondwet”, veral wat vryheid van spraak betref.
Om dié redes moet die saak dringend in die konstitusionele hof aangehoor word.
Die gelykheidshof in Johannesburg het op 22 September verlof om appèl toegestaan en die saak sou na verwagting volgende jaar in die appèlhof aangehoor word.
Malema het in sy verklaring gesê hy en die ANC hou asem op vir ’n finale beslissing en kan nie tot volgende jaar wag nie.
“Met die ANC se eeufeesviering aan die begin van 2012 moet hy weet of sy vryheidsliedere gesing mag word ... sonder om die wet te oortree.”
Hy wend hom ook spesifiek tot die konstitusionele hof, aangesien “die saak verskeie konstitusionele kwessies behels”.
Die saak moet dringend aangehoor word omdat die uitspraak onafdwingbaar is en ’n skending van die grondwetlike reg op vryheid van spraak is, het Malema gesê.
In sy verklaring hou die jeugleier vol Lamont se bevel is “verkeerdelik toegestaan” en die klag is ’n “wanopvatting van die geskiedenis en konteks van vryheidsliedere”.
Mantashe het in sy beëdigde verklaring gesê hy bevestig en ondersteun Malema se verklaring onomwonde.
Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het Sondag gesê hy dink nie Malema en die ANC se argumente vir ’n dringende regstreekse appèl is sterk genoeg om die normale hofprosesse te systap nie.
“Dat die ANC hom hieroor op ’n dringende basis tot die hoogste hof in die land wend te midde van armoede en ’n diensleweringskrisis in die land skrei teen ’n mens se hele wese.”
Die lied se woorde is in stryd met die Grondwet en hy is daarom nie oortuig dat die saak voorkeur sal geniet in die konstitusionele hof nie, het Spies gesê.
In sy beëdigde verklaring het Malema gesê hy sing nie vryheidsliedere met die bedoeling om enige persoon of groep leed aan te doen nie.
“Ek sing vryheidsliedere bloot omdat dit deel is van die erfenis en geskiedenis van die vryheidstryd teen rasse-onderdrukking van koloniale en apartheidsmagte.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld