Malema wil koerant dagvaar vir naamskending
2011-07-29 07:01
Queenstown - Die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het Donderdag hier te velde getrek teen mediaberigte oor beweerde ongerymdhede met ’n trust waarby hy betrokke is.
Malema het gepraat ná die hofverskyning van ’n verdagte in ’n saak van poging tot moord op ’n lid van die jeugliga.
City Press, susterskoerant van Die Burger, het verlede naweek beweer dat Malema minstens R200 000 van die geld in die trust met behulp van korrupte tenderprosesse bekom het.
Malema het Donderdag buite die Queenstown-landdroshof gesê hy is van plan om die koerant te dagvaar vir naamskending.
“Hoeveel mense in die land het trusts? Waarom word hulle s’n nie vir ongerymdhede ondersoek nie? Die media mislei die land,” het hy gesê.
“Die trust waaroor hulle praat, is ’n fonds wat die armstes van die armes help. Die geld is al gebruik om rolstoele aan mense in die O.R. Tambo-distrik (in die Oos-Kaap) te skenk, en die media het dit nie gedek nie.”
Volgens hom is die geld in die trust deur ondernemings geskenk as deel van hul maatskaplike verantwoordelikheid-programme.
Hy het die media as obsessief bestempel en gesê die regte weergawe van ’n storie word nooit aan die publiek oordra nie.
“Sedert ek die leier van die jeugliga geword het, is ek nie in vrede gelaat nie. Die media is behep met my. Hulle volg my selfs tot in die toilet om seker te maak ek doen wat ek veronderstel is om te doen,” het hy gister aant die skare gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger