Malema wil jammer sê
2011-11-15 09:04
Johannesburg – Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, gaan na verwagting Dinsdag tydens ’n vergadering met die SA Minority Rights Equality Movement (Samrem) om verskoning vra nadat hy die Indiërgemeenskap verlede maand “makula” (“koelies”) genoem het.
Indiërs in Suid-Afrika was woedend omdat hy die Pedi-woord “makula” tydens ’n besoek aan Thembelihle in Lenasia gebruik het.
Samrem het kort daarna ’n klag van crimen injuria teen Malema by die polisie ingedien.
“Hy het ons gekontak en gesê hy wil ons kom sien en is bereid om om verskoning te vra. Ons het gesê hy is welkom en die afspraak gemaak,” het A.K. Singh, sekretaris van Samrem, Maandag gesê.
Samrem was reeds in die proses om Malema by die gelykheidshof, die openbare beskermer (OB), die Menseregtekommissie (MRK) en die ANC aan te kla, maar het halt geroep toe hulle hoor Malema is bereid om te gesels.
Singh wou homself nie uitlaat oor of Samrem dit sal oorweeg om die klag teen Malema terug te trek nie.
Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum-jeug, het Maandag gesê dit is ironies dat Malema met Samrem vergader om verskoning te vra aan die Indiër-gemeenskap, maar steeds nie jammer gesê het aan Afrikaners en boere vir die “skiet die boer”-lied en omdat hy wit mense misdadigers genoem het nie.
“Die hof, ’n onafhanklike liggaam, het hom skuldig bevind, maar hy vra steeds nie die Afrikaners om verskoning nie. Dit wys weer eens daarop dat hy iets teen Afrikaners het en nie vir die Afrikaner se standpunt omgee nie.”
Oberholzer het ook gesê dit is jammer die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) het Malema verlede week vrygespreek op ’n klag van onverdraagsaamheid nadat hy gesê het “alle wit mense is misdadigers”.
Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, het gesê dié organisasie is bekommerd daaroor “dat die ANC se tugkomitee slegs skramsweg verwys het na die ernstige klagte oor rassisme waaraan Malema onskuldig bevind is”.
“Die ANC se onvermoë om Malema gepas te straf vir sy polariserende uitsprake teen die minderhede van Suid-Afrika is ’n verspeelde geleentheid om die diepe verdeeldheid wat reeds in die samelewing bestaan, te heel.”
Dave Steward, uitvoerende direkteur van die F.W. de Klerk-stigting, het gesê dit is “ontstellend” dat Malema “nie skuldig bevind is aan die opstoking van rasseverdeeldheid” nie.
“Wat was die NTK besig om te sê oor die ANC se verbintenis tot die beginsel van nierassisme en watter boodskap wou hulle aan wit Suid-Afrikaners stuur?” het Steward gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld