Malema ‘weet nie’ hoe hy aandele gekry het
2010-03-03 06:34
Daniëlla du Plooy
Johannesburg
Julius Malema “weet nie” hoe hy 70% se aandele gekry het in ’n maatskappy wat by groot tenders in Limpopo gebaat het nie.
Só het die leier van die ANC-jeugliga Dinsdag by monde van sy prokureur, Tumi Mokwena, op ’n nuuskonferensie in Luthuli-huis hier gesê. Malema was nie teenwoordig nie.
Malema is direkteur van die maatskappy SGL Engineering Projects wat die afgelope drie jaar kontrakte van R140 miljoen van agt munisipaliteite in Limpopo gekry het.
Hy het vroeër beweer sy handtekening is “vervals” op dokumente wat hom by SGL betrek.
Mokwena het gesê: “Aantygings dat hy gejok het en berigte oor sy vervalste handtekening het Malema baie ontstel.”
Hy het bevestig Malema is steeds as direkteur van die maatskappy geregistreer, maar ontken sy kliënt trek enige finansiële voordeel daaruit.
Malema het Sondag by ’n saamtrek van die ANC-jeugliga in Lamontville, Durban, gesê ’n joernalis van City Press het sy handtekening “vervals” om hom “korrup te laat lyk”. Dié Sondagkoerant het berig Malema het gelieg toe hy verlede week ontken het hy het dokumente onderteken om ’n lid van SGL te word.
Mokwena het gesê Malema hou vol hy was nie bewus van sy posisie – glo met ingang van 6 Mei 2009 van krag – in die maatskappy nie.
“Hy is geregistreer as een van die direkteurs toe die maatskappy van beslote korporasie na private maatskappy verander het.”
- Die Burger