Malema 'weet nie' in watter hof hy verskyn
2012-09-23 19:05
Johannesburg – 'n Plek en datum vir Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, se hofverskyning is nog nie bevestig nie, het sy prokureur Sondag gesê.
"Ons het nog nie bevestiging van owerhede ontvang oor 'n datum of plek nie," het Nicqui Galaktiou, Malema se prokureur, aan Sapa gesê.
City Press het berig dat Malema Woensdag op aanklagte van bedrog en geldwassery in die Polokwane-streekhof verskyn.
Die Sunday Times het berig hy sal saam met vyf ander individue en vier maatskappy in die beskuldigdebank staan.
Galaktiou het egter gesê "hoewel die media die inligting gepubliseer het", weet Malema se span nie op watter aanklagte hy teregstaan nie.
"Ons weet nie wat die aanklagte is nie."
'n Lasbrief vir Malema se inhegtenisneming is Vrydag uitgereik.
Malema sal na verwagting in die hof verskyn op aanklagte van geldwassery, korrupsie en bedrog, wat verband hou met sy Ratanang-familietrust en sy aandeel in On-Point Engineering, wat na bewering miljoene rande uit tenders van die Limpopo-regering verdien het.
Bulelwa Makeke, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het Sondag geweier om kommentaar te lewer oor 'n moontlike hofverskyning.
"Ons kan daaroor praat wanneer hy in die hof verskyn."
City Press het Sondag berig dat adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, bevind het dat Malema sy miljoene uit 'n tender wat op 'n oneerlike wyse bekom is, verdien.
Hoewel Madonsela nie bewyse kon vind dat Malema ingemeng het by die tenderproses nie, het sy bevind dat sy Ratanang-familietrust "op 'n onbehoorlike wyse" daarby gebaat het.
Dié inligting is vervat in 'n afskrif van Madonsela se voorlopige verslag oor die maatskappy On-Point Engineering se tender van R50 miljoen, wat deur die departement van paaie en vervoer in Limpopo toegestaan is.
Malema se familietrust was een van die twee aandeelhouers in On-Point.
Die koerant het ook berig Malema skuld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R16 miljoen in onbetaalde belasting
City Press berig dat Malema nie die SAID se saak, wat op 11 September in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, teenstaan nie.
Adrian Lackay, 'n woordvoerder vir die SAID, het bevestig dat Malema R16 miljoen aan die belastinggaarder skuld.
Hy het aan die koerant gesê die bedrag sluit onbetaalde belasting, boetes en rente in.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA