Malema: wa's die swartes dan?
2009-08-06 16:29
Johannesburg – Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga (ANCYL), wil weet waarom al die ministers wat met sekuriteit te doen het swart is, terwyl al die ekonomiese ministers uit minderheidsgroepe kom.
“Ons [swart mense] kan nie bloot tot sekuriteit verlaag word terwyl al die belangrikste kwessies rondom die ekonomie aan minderheidsgroepe gegee word nie,” het Malema Donderdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
Malema het gesê die ministers van staatsveiligheid, intelligensie en justisie is almal Afrikane, maar dié in ekonomiese posisies kom uit minderheidsgroepe.
Die ANCYL-leier se aanmerkings het gevolg op ‘n vraag of die Jeugliga die aanstelling van Gill Marcus as die president van die Reserwebank verwelkom.
“Ons verwelkom haar aanstelling, maar ons het weereens verwag dat ‘n kind van Afrika dié strategiese posisie sou vul,” het hy gesê.
Nathi Mthethwa, Jeff Radebe en Siyabonga Cwele is onderskeidelik die ministers van polisie, justisie en staatsveiligheid, terwyl Pravin Gordhan en Ebrahim Patel die posisies as ministers van finansies en ekonomiese ontwikkeling bekleë.
Malema het aangedui dat hy hierdie kwessie met die regerende party sal opneem.
- Sapa