Malema vyf jaar geskors
2011-11-10 11:33
Johannesburg – Julius Malema, omstrede president van die ANC-jeugliga, is skuldig bevind op twee van die drie aanklagte teen hom en vyf jaar uit die party geskors.
Malema is skuldig bevind op die eerste aanklag dat hy verdeeldheid saai in die party nadat hy gesê het die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is van koers af sedert oudpres. Thabo Mbeki nie meer staatshoof is nie. Hy is ook skuldig bevind op aanklag dat hy die ANC in oneer bring oor sy uitlatings oor Botswana. Malema is egter onskuldig bevind op aanklag van rassisme oor uitlatings wat hy in Mei op 'n saamtrek gemaak het.
Malema, Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal is ook daarvan aangekla dat hulle ongenooid by 'n vergadering van die ANC opgedaag en dié vergadering ontwrig het. Hulle is skuldig bevind op dié aanklag en twee jaar geskors. Die skorsing is opgeskort vir 'n tydperk van drie jaar.
Shivambu is drie jaar uit die ANC en die ANC-jeugliga geskors nadat hy 'n joernalis gevloek en gesê het die ANC vat die kant van imperialiste. Dié skorsing is nie opgeskort nie.
Die groep kan nou binne 14 dae by die nasionale appèlkomitee appèl aanteken. Die sakeman Cyril Ramaphosa is die voorsitter van dié komitee.
Dié aankondiging is Donderdagoggend op 'n mediakonferensie by Luthuli-huis gemaak.
Hy en sy medebeskuldigdes is voor die mediakonferensie in kennis gestel van die komitee se bevindinge.
Hanekom het gesê daar word van ANC-lede verwag om die grondwet en die strukture van die ANC te respekteer.
Verskeie koerante het Donderdagoggend wyd bespiegel oor Malema se skorsing en skuldigbevinding.
Hy het nie die verhoor bygewoon nie omdat hy 'n eksamen in Limpopo moes aflê.
Malema en Floyd Shivambu, is onder meer daarvan aangekla dat hulle onenigheid in die party saai en dat hul uitlatings oor ’n regimeverandering in Botswana die ANC in oneer gebring het.
Malema het later om verskoning gevra vir dié uitlatings.
Die ANC het op 30 Augustus die tugverhoor teen Malema begin – die tweede een in 18 maande.
Die eerste dat van die verhoor is gekenmerk deur geweld, waarna ANC-beamptes die verhoor na 'n ander lokaal verskuif het.
Senior ANC-leiers insluitend Winnie Madikizela-Mandela, Tokyo Sexwale en Fikile Mbalula het in Malema se guns getuig.
Op die laaste dag van die verhoor het Malema erken dat hy foute gemaak het.
Malema het verlede jaar 'n waarskuwing van die ANC se tugkomitee gekry nadat hy pres. Jacob Zuma in die openbaar gekritiseer het.
Die tugkomitee het toe gesê Malema kan uit die party geskors word indien hy binne die volgende twee jaar ernstige verdeelheid in die party saai.
– Volg Nuus24 op Twitter