Malema-vertroueling sweep glo skare op
2011-09-04 09:08
Cedric Mboyisa en Piet Rampedi
Johannesburg - ’n Senior leier van die ANC-jeugliga in Limpopo en vertroueling van Julius Malema, jeugleier, het glo die afgelope week se gewelddadige protes gereël.
Jacob Lebogo, jeugliga-sekretaris in Limpopo, was na bewering verantwoordelik vir die oproerigheid by Malema se tugverhoor in Luthuli-huis in Johannesburg. Die onrus het die ANC-leiers en die land geskok.
Minstens ses joernaliste en polisiebeamptes is met klippe gegooi en die polisie moes waterkanonne gebruik om die skare Dinsdag in bedwang te bring. Volgens sommige ooggetuies is die klippe waarmee die polisie bestook is in Limpopo opgetel en saamgery.
Die jeugdiges het ook plakkate rondgeswaai waarop hulle onder meer na pres. Jacob Zuma as ’n verkragter verwys het en T-hemde met Zuma se gesig daarop is verbrand.
Die polisie se misdaadintelligensie-eenheid ondersoek die voorvalle en probeer vasstel of die gewelddadige aard daarvan vooraf beplan is. Klagte van die aanhitsing van geweld kan volg as hulle die skuldiges kan identifiseer.
Die ANC probeer ook vasstel wie betaal het vir die 54 busse en taxi’s wat ondersteuners na Johannesburg gekarwei het. Dit het glo meer as R1 miljoen gekos.
Malema en die res van die leiers, wat ook deur tugstappe in die gesig gestaar word, het die afgelope week volgehou hulle het niks met die protesoptrede te doen gehad nie.
Minstens nege mense wat by die betogings was of ná die tyd breedvoerig hieroor ingelig is, het aan Rapport se susterkoerant City Press gesê Lebogo was die “generaal” wat die “troepe” teen die polisie gelei het.
Onder die bronne tel twee streekleiers van die jeugliga in Limpopo en ’n senior staatsamptenaar.
Volgens hulle het Lebogo ook van politici en sakelui geld gekry om vir die busse en taxi’s te betaal.
Lebogo ontken hy het aan die betogers gesê om oproerig te raak.
Hy het nie op navrae oor die vervoergeld gereageer nie.
“Die leiers maak asof hulle niks met die gebeure te doen het nie,” het ’n ooggetuie gesê.
“Om 08:55 het hy (Lebogo) aan mense (op Beyers Naudé-plein) gesê: ‘Ons het nie Johannesburg toe gekom om in die park te sit nie.’”
Volgens hom het Lebogo gesê: ‘Ons leiers sit in Luthuli-huis en ons weet nie waarom ons van hulle geskei word nie. Ons moet die polisie terugdruk.’"
Kort ná die toespraak het die skare aggressief geword.
’n Johannesburgse jeugligalid het gesê Lebogo het die skare uitgelok om met die polisie slaags te raak.
“Hy was uiters onverantwoordelik.”
’n Noord-Kaapse jeugligaleier het gesê Lebogo sal dit ontken, maar hy het hulle aangehits om die polisie uit te lok.
Intussen het die provinsiale regering in Gauteng klagte teen die jeugliga ingedien nadat paaie beskadig en minstens 18 vensters van die departement van vervoer se gebou gebreek is.
Die ANC het ook sy provinsiale kantore gevra om op te tree teen lede wat hulle aan wangedrag skuldig gemaak het.
Die Oos-Kaapse ANC het glo reeds aangedui hy beplan tugstappe teen spesifieke jeugligalede van dié provinsie.
Malema se pogings om die klagte teen hom te laat uitgooi het misluk en sy tugverhoor sal volgende Sondag voortgaan.
As hy skuldig bevind word, kan hy tydelik uit die party geskors of selfs permanent uitgegooi word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport