Malema 'versteek' waardevolle bates
2013-02-24 12:55
Johannesburg – Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, het dalk van sy bates weggesteek om te verhoed dat dit op 'n veiling verkoop word, is Sondag berig.
Malema se bates is opgeveil om die R16 miljoen wat hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens skuld, te betaal.
Sy huishoudelike inhoud is Vrydag in Polokwane vir R54 000 verkoop – wat sowat 'n vyfde van die waarde is van sy Breitling-horlosie, berig die Sunday Independent.
Volgens die koerant het Malema in Januarie R291 000 op klere by 'n Italiaanse boetiek spandeer en meer as R31 000 op Louis Vuitton-ontwerperklere.
Malema se horlosie en ontwerperklere is nie op die veilig gesien nie. Bates wat opgeveil is, sluit in 'n klavier, yskaste, 'n muureenheid, TV's en blommetafels.
Die Sunday Sun het berig Norman Motaung het die klavier vir R9 300 verkoop.
"Ek het dit nie gekoop oor die vorige eienaar nie," het Motaung aan die koerant gesê.
Boy Mamabolo, 'n voormalige vriend van Malema, het 'n spieël vir R300 gekoop. Hy het aan die koerant gesê Malema het in 2009 onderneem om die spieël vir hom te gee, maar het intussen van plan verander.
"Ek help die SAID om sy geld terug te kry. Maar ek is teleurgesteld dat die musiekmenger teruggaan na Juju – wabt sy lyfwag het dit gekoop," het Mamabolo aan die Sunday Sun gesê.
Volgens die koerant was baie mense teleurgesteld oor die bates wat te koop was.
"Volgens die balju was sommige mense nie gelukkig oor die toestand waarin sommige items was nie," het Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA