Malema verskyn einde van week voor tugkomitee
2011-09-05 09:14
Kaapstad - Julius Malema, ANC-jeugleier, sal eers weer Sondag voor die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) verskyn.
Die NTK het die beplande voortsetting van die tugverhoor uitgestel van later vandag tot komende Sondag omdat al die partye nie vandag beskikbaar is nie.
Malema het hom ’n paar weke gelede die gramskap van die ANC se leierskorps op die hals gehaal met planne om ’n “bevelspan” saam te stel om weerstand teen die bewind van pres. Ian Khama van Botswana te organiseer.
Hy word nou daarvan beskuldig dat hy die ANC in oneer gebring het en dat hy verdeeldheid in die party saai.
Malema en vier ander beamptes van die jeugliga het verlede week voor die NTK verskyn.
Die NTK het Vrydag 22 argumente van Malema se regspan verwerp om die klagtes teen hom ongeldig te verklaar.
Die NTK het in ’n dokument, wat redes vir elkeen se verwerping verskaf bevat, openbaar gemaak.
Dít het die jeugliga erg gegrief omdat hulle glo die bekendmaking is strydig met die ANC se grondwet en reëls in terme van tugprosesse. In ’n verklaring die naweek het die jeugliga aangedui hy gaan hom daarvan weerhou om enige uitlatings hieroor te maak omdat hy dan die reëls sal oortree.
Die jeugliga het voorts gesê nie al die kwessies wat gekommunikeer is, dui op wat werklik gebeur het nie.
Hulle het hoofsaaklik verwys na die deel waar Malema se regspan glo sou aanvoer dat die ANC se grondwet indruis teen die land se grondwet.
Luidens ’n verklaring Saterdag van Derek Hanekom, voorsitter van die NTK en adjunkminister van wetenskap en tegnologie, sal argumente in Malema se tugverhoor Sondag begin. Drie dae is ter syde gestel om die tugverhoor af te handel.
Hanekom het gesê ’n datum is nog nie vasgestel vir Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, se verhoor nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger