Malema verklaar 'ekonomiese oorlog' teen wittes
2011-09-10 16:45
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, het Saterdag by die Scwetla- informele nedersetting 'n "ekonomiese oorlog" teen die "wit minderheid" verklaar.
"Hierdie is oorlog, en ons moet veg soos ons vorentoe beweeg. Daar sal sterftes wees, maar ek weet ons gaan wen," het hy gesê.
Malema het bykans 1 000 mense by die herdenking van die jeugliga se 67ste bestaansjaar in Alexandra, Johannesburg toegespreek.
"Die dag het gekom, en op OR Tambo se verjaardag gaan ons na die Johannesburgse Aandelebeurs opmars en die stryd na die hoofstad van die monopolie neem," het hy gesê.
Hy het gesê die jeugliga hou sy vieringe in Alexandra omdat dié gebied se inwoners die mees "betroubare magte vir die revolusie" is.
"Julle is die rede waarom die stryd teen apartheid voortgegaan het. Die tyd om te veg is nou, en ons sal onsself terugeis in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
"As ons dit nie nou doen nie, sal diegene wat werkloos is vir altyd so bly."
Malema het ook gesê die jeugliga sal nie verskoning maak vir sy standpunt oor nasionalisering en grondhervorming nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA