Malema-verhoor duur voort by Luthuli-huis
2011-08-31 07:26
Johannesburg – Die dissiplinêre verhoor van Julius Malema, sy woordvoerder, Floyd Shivambu en vier ander lede van die jeugliga duur Woensdag voort by Luthuli-huis.
Dít volg nadat daar besluit is om die verhoor na 'n plek buite die stad te verskuif. Malema se regspan het die besluit van die ANC om die verhoor te verskuif, teengestaan, berig die eNews-kanaal.
Dít volg nadat ondersteuners van die jeugliga Dinsdag die polisie en joernaliste met klippe bestook en T-hemde met pres. Jacob Zuma se gesig verbrand het.
Die polisie is Woensdag op 'n hoë gereedheidsgrondslag in die Johannesburgse middestad.
"Die verhoor sal by Luthuli-huis gehou word. Indien die situasie nie verbeter nie, sal die verhoor na 'n alternatiewe plek verskuif word," het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê.
"Die tugkomitee sal die finale besluit maak."
Ronald Lamola, adjunkpresident van die ANCYL, Sindiso Magaqa, die jeugliga se sekretaris-generaal, sy adjunk, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe, die jeugliga se tesourier, word saam met Malema en Shivambu aangekla.
Die groep word daarvan aangekla dat hulle die ANC in oneer bring en verdeeldheid in die ANC saai.
Malema het vroeër vandeesmaand gesê het hy het planne om ’n “bevelspan” saam te stel om weerstand te organiseer teen die president van Botswana, Ian Khama, se bewind, is vroeër berig.
Die ANC het gesê Dinsdag se ontwrigtings sal nie die moederliggaam stop om met die aanklagte teen die jeugleiers voort te gaan nie. Shivambu sal na verwagting Donderdag voor die tugkomitee verskyn wanneer Malema se verhoor afgehandel is.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter