Malema-verhoor afgehandel
2011-11-07 10:07
Johannesburg – Die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) het Maandag begin beraadslaag oor die uitkoms van Julius Malema en sy medebeskuldigdes se dissiplinêre verhoor.
Slotbetoë het Sondagaand laat geëindig, het Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, gesê.
"Die saak is nou heeltemal in die hande van die NTK. Hulle gaan oor 'n paar dae beraadslaag en tot 'n beslissing kom," het hy gesê.
"Indien hulle hom (Malema) skuldig bevind, sal die NTK sy besluit moet verduidelik en regverdig."
Die tugkomitee se besluit sal na verwagting later vandeesweek of vroeg volgende week bekend gemaak word, het Khoza gesê.
Malema en Floyd Shivambu, word onder meer daarvan aangekla dat hulle onenigheid in die party saai en dat hul uitlatings oor ’n regimeverandering in Botswana die ANC in oneer gebring het.
Ronald Lamola, Sindiso Magaqa, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe is ook aangekla.
Malema kan onmiddellik uit die party geskors word weens ’n
opgeskorte straf wat hy hom verlede jaar ná ’n soortgelyke tugproses op
die hals gehaal het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA