Malema verbied om boere-moordlied te sing
2010-04-01 19:23
Pretoria – Julius Malema, ANC-Jeugligaleier is verbied om die "Skiet die boere"-lied te sing, nadat ‘n interdik Donderdag deur die hooggeregshof in Pretoria toegestaan is.
“Die eerste respondent word verder ook verbied om enige soortgelyke liedere, wat geweld aanhits, te sing,” het regter Eberhard Bertelsmann gesê.
Die bevel is geldig tot die eerste dag wanneer die saak in die gelykheidshof aangehoor sal word. Bertelsmann het die saak na dié hof verwys.
Hy het gesê die hof is bewus dat Malema, die ANC asook die ANC-jeugliga nie genoeg tyd gegee was om te reageer nie. Hy het dit duidelik gemaak dat dit slegs ‘n voorlopige bevinding is.
Bertelsmann het gesê demokrasie in die land is steeds teer en dat diegene wat aan politiek deelneem moet in ag neem dat sekere dinge wat gesê word kan aanstoot gee aan ander groepe.
- Sapa