Malema vaar uit teen opvolger
2012-11-28 09:25
Johannesburg – Julius Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, het sy opvolger, Ronald Lamola, gekritiseer en hom 'n "verraaier" en 'n "uitverkoper" genoem, berig The Star.
"Hy is gekompromitteer. Hy is weg. Hy is uitverkoop met sy uitverkoper neigings en sal nooit die jeugliga lei nie," het Malema aan die koerant gesê.
Malema het Lamola gekritiseer oor 'n uitlating dat die jeugliga die uitkoms van die ANC se nasionale verkiesingskonferensie sal ondersteun, ongeag of die kandidate wen wat hulle ondersteun.
"Sonder dat hy 'n vraag gevra is, het hy gesê ons sal die uitslae aanvaar, al wen [Jacob] Zuma. Selfs onder die magte van verandering, is Lamola nie iemand na wie jy moet luister nie. Hy is 'n verraaier, hy gaan nie daardie mandaat na sy logiese einde dra nie," het Malema gesê.
Malema het gesê hy was geskok om Lamola by sy hofsake te sien en het gesê "ek het nie Lamola in my lewe nodig nie".
"Ek het hom nie nodig nie. Hy het my nie gemaak nie. Hy weet nie waarvandaan ek kom nie. Ek het Lamola nie in my lewe nodig nie, net soos wat ek hom nog nooit in my politieke loopbaan nodig gehad het nie."
Lamola wou nie kommentaar lewer nie en het gesê hy moet met "kamerade vergader" voor hy op Malema se uitlatings kan reageer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA