Malema uitspraak voorbehou
2009-11-25 05:34
Johannesburg - Uitspraak in die haatspraak saak teen Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), is in die gelykheidshof in Johannesburg voorbehou.
Landdros Colleen Collis het gesê sy sal op ‘n latere stadium die datum aandui waarop uitspraak gelewer sal word.
Die Sonke Gender Justice Network het ’n klag van haatspraak, diskriminasie en teistering teen Malema gelê oor sy kommentaar oor ’n vrou wat pres. Jacob Zuma van verkragting aangekla het.
Malema het glo gesê die klaer het ’n “lekker tyd” gehad.
Tumi Mokwena, Malema se prokureur, het in sy finale argumente voor die hof gesê die gelykheidswet maak daarvan voorsiening om ware slagoffers van verkragting te beskerm en bygevoeg dat daar bevind is dat die klaer in die Zuma-saak leuens vertel het.
Mokwena het verder bygevoeg dat die grondwet aan Malema die reg tot vryheid van spraak gee.
Die Sonke Gender Justice Network eis ’n verskoning en R50 000 skadevergoeding wat aan ’n skuiling vir mishandelde vroue betaal sal word.
- Sapa