Malema-teenstanders vier fees
2012-02-05 09:54
Johannesburg – Julius Malema se teenstanders in Seshego, sy tuisdorp in Limpopo, het Saterdag se nuus van sy pak slae van die ANC se tug-appèlkomitee verwelkom deur T-hemde met sy gesig op te verbrand en daarop te urineer.
Talle Seshego-inwoners het in ’n kavalkade van meer as 50 motors en motorfietse deur die dorp gery en Malema en sy adjunkte beledig.
Hulle het op T-hemde waarop Malema se gesig pryk, brandstof gegooi, daarop geürineer en na sy ouma se huis gery waar hulle rondgedans en sy familie getart het.
Die familie het hulle luidkeels versoek om te “voertsek”.
Sommige het selfs ’n doodskis rondgedra as simbool van Malema se politieke dood.
’n Veiligheidswag by die huis van Malema se ouma het gesukkel om die groep weg te hou.
Die jubelsangers was ANC- en jeugligalede wat gesê het hulle is “keelvol” vir Malema se “diktatorskap van die ANC en jeugliga in die provinsie”.
Die kavalkade het grootliks bestaan uit luukse motors soos BMW X5’s, Mercedes-Benze en Range Rovers.
’n Jeugligaleier wat namens die groep gepraat het, maar anoniem wil bly, het Malema en die res van die leierskorps gevra om die beslissing te aanvaar.
“Kameraad Malema moenie die howe nader om die beslissing te beveg nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport