Malema-spook kan nog lank loop
2011-11-07 08:03
Kaapstad - Die uitslag van Julius Malema, ANC-jeugleier, se tugverhoor kan die binnegevegte in die regerende party in die volgende maande op die spits dryf.
’n Senior lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK), die ANC se hoogste gesagsliggaam tussen konferensies, het gister gesê die nadraai “van die aanval op Julius” gaan nog lank by die party spook.
“Wat ook al gebeur, al kom hy los, dit kan mos nie net tot niks gereduseer word nie. Die grondwet (van die ANC) gee hulle (die klaers) die reg om (enigiemand) aan te kla, maar dit beteken nie die reg mag misbruik word nie.”
Die NUK vergader einde vandeesmaand en daar word verwag dat die Malema-kwessie een van die besprekingspunte sal wees.
Die verhoor sloer al sedert 30 Augustus.
Die slotbetoë, wat eers Sondag by Luthuli-huis aangehoor is, moes ’n maand gelede reeds gebeur het.
Malema se regspan, onder aanvoering van adv. Patric Mtshaulana SC en adv. Dali Mpofu SC, het vir oulaas voor die nasionale tugkomitee, onder voorsitterskap van Derek Hanekom, verskyn om hulle te probeer oortuig om Malema nie te skors nie.
Volgens Keith Khoza, ANC-woordvoerder, het die ANC se regsverteenwoordigers ook húl saak gestel.
Die tugkomitee sal daarna vergader en hul bevinding “binne die volgende paar dae” bekend maak.
Kragtens die ANC se grondwet kan Malema binne 14 dae daarna by die nasionale appèlkomitee appèl aanteken.
Eindelik is dit die NUK, waar Malema gedeeltelik steun geniet, wat sy lot sal bepaal omdat dié liggaam die mag het om die appèlkomitee se besluit om te keer.
Daar is blykbaar groot ontevredenheid onder sekere NUK-lede oor die wyse waarop die ANC se topleierstruktuur die aanklagte teen Malema van stapel gestuur het. Die gevoel is die topses-amptenare (onder wie pres. Jacob Zuma en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal) het die prosedures geminag deur die NUK nie vooraf in te lig van hul voorneme om Malema aan te kla nie.
“Ons was verbaas. Ons weet nie hoekom (hy aangekla is) nie en ons verstaan nie waarmee hulle besig is nie.
“Niemand het ons iets gesê nie,” het die NUK-lid gesê.
As Malema skuldig bevind word, sal die appèlproses waarskynlik etlike maande duur en kan dit eindelik eers by die ANC se volgende leiersverkiesing besleg word.
“Ons sal dit (die kwessie) na die nasionale kongres (in Mangaung in Desember volgende jaar) neem,” het die ingeligte gesê.
Malema en sy regterhand, Floyd Shivambu, word onder meer daarvan aangekla dat hulle onenigheid in die party saai en dat hul uitlatings oor ’n regimeverandering in Botswana die ANC in oneer gebring het.
Die vurige jeugleier kan onmiddellik uit die party geskors word weens ’n opgeskorte straf wat hy hom verlede jaar ná ’n soortgelyke tugproses op die hals gehaal het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger