Malema se omstrede wagte van Dbn-firma
2011-04-14 08:13
Johannesburg – Die omstrede gewapende lyfwagte van die ANC-Jeugligaleier, Julius Malema, wat hulself vandeesweek die verontwaardiging van ’n regter op die hals gehaal het, is verbonde aan ’n onbekende en betreklik nuwe Durbanse maatskappy Tactical Security Services, wat volhou dat hy geen politieke bande het nie.
Adriaan Snyman, ’n 29-jarige voormalige direkteur van die maatskappy en glo ook die stigter daarvan, was vandeesweek op sy pos, aanvalsgeweer in die hand, buite die Gelykheidshof in Johannesburg, waar die haatspraaksaak teen Malema verhoor word.
Die lyfwagte met hul swart pakke en rooi dasse het wyd media-aandag getrek en bespiegeling ontlok oor wie vir hulle betaal en waar hulle vandaan kom.
Hul teenwoordigheid het daartoe gelei dat die regter wat die saak aanhoor, regter Colin Lamont, beveel het dat almal, behalwe die polisie, met vuurwapens by hulle sy hofsaal moet verlaat.
In ’n onderhoud Woensdag met Volksblad het Snyman die rol van die maatskappy en bespiegelings oor hul politieke verbintenisse onderspeel.
Die maatskappy is in 2008 gestig en is by die Privaatsekuriteitsbedryfsreguleringsowerheid (PSIRA) geregistreer.
“Ons het geen politieke verbintenisse of so iets nie. Ons word hoog aangeskryf, want ons kyk na die beste van die beste,” het hy volgehou.
“Ons weet hoe om mense lewend te hou. Dit gaan nie oor Malema wat ons Johannesburg toe vlieg of enigiets nie. Mense probeer om hierdie hele ding in ’n negatiewe storie te verander.”
Hy wou niks sê oor wie hul rekening betaal of enige ander besonderhede oor hul teenwoordigheid nie.
Die eienaar van ’n ander sekuriteitsonderneming in Durban wat met Snyman gepraat het, het aan Dries Liebenberg gesê Snyman beskou dié as “net nog ’n job”.
Hy het vertel Snyman het Tactical Security Services in 2008 in Durban gestig en bedryf die onderneming uit ’n kantoor in die Bluff.
Die maatskappy monitor onder meer huisalarms en pas ondernemings op, maar het volgens webtuistes ook ’n “taktiese ondersteuningseenheid” wat mense oppas.
Tladi Tladi, woordvoerder van die departement van Justisie, was nie Woensdag beskikbaar vir kommentaar oor die regter se klagte oor die toelating van gewapende private sekuriteitswagte tot die hof nie.
- Volksblad