Malema se spioene
2010-03-21 11:27
Johannesburg - Beswaarde oudwerknemers van die regering help die
ANC-jeugliga om op “vyande” van dié organisasie te spioeneer en
sensitiewe inligting oor hulle in te samel.
’n Ondersoek deur
City Press, Rapport se susterkoerant, en Eye Witness News het aan die
lig gebring dat talle oudstaatsamptenare wat ná tug- of strafregtelike
prosesse afgedank is, nou saamspan om hul voormalige werkgewers af te
pers.
Een van dié groep se taktieke is om die samewerking van
politiek invloedryke groepe, soos die ANC-jeugliga, te verkry. Op hul
beurt verskaf hulle dan hulp aan die jeugliga.
Een van die
kernfigure in dié skaduagtige bedrywighede is mnr. Michael Peega,
afgedankte doeanebeampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID)
wat ’n omstrede dossier vir die jeugliga saamgestel het waarin onder
meer beweer word dat Jan Taks sy mes in het vir mnr. Julius Malema,
jeugliga-leier.
Peega is in Junie verlede jaar deur die SAID, in
die pad gesteek ná etlike aanklagte. Hy is tans op borgtog van R20 000
en staan tereg op aanklagte wat van onwettige renosterjag tot die besit
van onwettige vuurwapens strek.
Na verneem word, is Peega een van
die mense wat vertroulike inligting insamel oor joernaliste en politici
wat krities oor Malema se leefstyl en bedrywighede is.
Die
inligting word in “dossiers” saamgevat wat aan die jeugliga oorhandig is
sodat hulle dit kan gebruik om hul teenstanders se reputasie skade te
berokken.
Selfs pres. Jacob Zuma het Vrydag op ’n plegtigheid van
die Nasionale Persklub toegegee dat die spioenasie op joernaliste en
die opdiep van hul persoonlike inligting ’n “onaanvaarbare” situasie
skep.
“Wat ek gehoor het, is skokkend. Ons ondersoek nou
joernaliste? Vir wat?” het Zuma gesê.
Vroeër die week het ’n
groep senior joernaliste ’n klag teen die jeugliga se woordvoerder mnr.
Floyd Shivambu ingedien nadat hy dié inligting in die dossiers gebruik
het om joernaliste te dreig en te intimideer.
Die jeugliga het
beweer dit is inligting oor joernaliste wat omkoopgeld “in bruin
koeverte” aanvaar, saam met politici slaap om stories te kry en hulle in
die binnepolitiek van die regerende alliansie inmeng.
Peega en
ander het blykbaar vanuit die spoggerige kantore van die jeugliga se
beleggingsfirma, Lembede Investment Holdings, gewerk. Hulle het glo
skootrekenaars, 3G-verbindings en geld gehad sodat hulle landwyd
“intelligensie” kon insamel.
Blykbaar is dié span ná Junie
verlede jaar saamgestel nadat die SAID Peega afgedank het.
Peega
is gister om kommentaar genader en het gesê hy sal dit later verskaf,
maar was teen druktyd nog stil. Maar hy het wel Vrydag aan Eye Witness
News gesê: “Ek het geen persoonlike verhouding met die jeugliga nie en
ek verskaf nie inligting oor joernaliste of ander bedrywighede nie.”
Me.
Magdalene Moonsamy, jeugliga-woordvoerder, het nie op versoeke om
kommentaar gereageer nie.
Malema het reeds een van die dossiers –
wat Peega na eie erkentenis help saamstel het – gebruik om
mediabelangstelling in sy sakebelange in Limpopo te beveg. In die
betrokke verslag het Peega beweer mnr. Pravin Gordhan, minister van
finansies en destyds kommissaris van die SAID, het ’n eenheid saamgestel
om die welvaart van Zuma se ondersteuners te ondersoek.
Die SAID
het bevestig so ’n eenheid bestaan, maar sê die dossier is grotendeels
’n fiktiewe skepping van Peega.
Mnr. Adrian Lackay,
SAID-woordvoerder, sê hulle is bewus van Peega se dreigemente en dat
daar “talle vergaderings en interaksie tussen afgedankte en ontevrede
werknemers” was waar die samestelling van die dossier bespreek is.
“Die
SAID het rede om te glo die doel van die dossier is om onware bewerings
teen SAID-bestuurders te maak om die organisasie skade te berokken,” sê
Lackay.
-
Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.