Malema se saak uitgestel
2009-11-02 13:56
Johannesburg - Die gelykheidshof in Johannesburg het Maandag die finale argumente in die haatspraak saak teen Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), uitgestel.
Dit kom nadat Malema se regspan gesloer het om die dokumente in te handig waarin sy finale argumente aangeteken is.
Die ANCYL-leier moes reeds teen 12 Oktober die dokumente ingehandig het, maar sy prokureur, Tumi Mokwena, was glo met verlof.
Landdros Collen Collis het Mokwena daarvan beskuldig dat hulle nie goed genoeg met die klerk oor die kwessie gekommunikeer het nie.
“Dit is reg, ons het nie,” het Mokwena gesê terwyl hy die landdros probeer oortuig het dat dié dokumente nie die verloop van die saak sal beïnvloed nie.
Die saak is tot 25 November uitgestel.
Die Sonke Gender Justice Network het ’n klag van haatspraak, diskriminasie en teistering teen Malema gelê oor sy kommentaar oor ’n vrou wat pres. Jacob Zuma van verkragting aangekla het.
Malema het glo gesê Khwezi (skuilnaam van die klaer) het ’n “lekker tyd” gehad. “As ’n vrou dit (seks) nie geniet nie, loop sy vroeg in die oggend. Diegene wat dit geniet het, wag totdat die son opkom en vra vir ontbyt en taxigeld.
“Die oggend het dáái vrou ontbyt en taxigeld gevra,” het hy glo gesê. “Jy kan nie taxigeld vra van iemand wat jou verkrag het nie.”
Die Sonke Gender Justice Network eis ’n verskoning en R50 000 skadevergoeding wat aan ’n skuiling vir mishandelde vroue betaal sal word.
–Sapa