Malema sê hy sal terugkom
2011-11-17 08:05
Johannesburg – Selfs al misluk sy appèl of word hy toegesluit vir korrupsie, sal hy terugkeer na die ANC, het mnr. Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, Woensdag op ’n mediakonferensie in Luthuli- huis in Johannesburg gesê.
“Ek sal nooit my eie party stig nie, ek is gebore in die ANC en ek sal sterf in die ANC. My bloed is swart, groen en goud.
“Selfs al is ek vyf jaar lank op straat, sal ek terugkom.”
Die jeugliga het Woensdag sy plan van aksie bekendgemaak om appèl aan te teken teen die skorsing van sy leierskorps.
Malema het die klagte teen die jeugliga as ’n “heksejag” bestempel en gesê hulle verwerp die bevindings van die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) en die skorsing van sy leiers.
Malema is verlede week vir vyf jaar uit die ANC-jeugliga én die ANC geskors en mnr. Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, vir drie jaar nadat die NTK bevind het hulle het die ANC-grondwet oortree.
Die res van die leierskorps het ’n opgeskorte vonnis gekry.
Volgens Malema is die besluit om die jeugleiers te skors geneem nog voordat die tugverhoor begin het en is hul getuienis nooit oorweeg nie.
“Die wyse waarop en spoed waarteen die NTK die klagte ingestel het, was net ’n manier om die besluit, wat reeds geneem was, om van die ANC-jeugliga se leierskorps ontslae te raak, te regverdig.
“Net die siende blind sal glo die kwessie is net oor dissipline en nié met die bedoeling om politieke speletjies te speel of debat te onderdruk nie.”
Malema het gesê die ANC sal “verbrokkel” as die organisasie se grondwet misbruik word om politieke agendas te bevorder en debat te onderdruk. Die verhoor was nie objektief of onpartydig nie en die jeugleiers het nooit die geleentheid gehad om versagtende omstandighede aan die NTK voor te hou nie, het Malema gesê.
“Selfs die apartheidshowe, waar kameraad Nelson Mandela en kameraad Solomon Mahlangu gevonnis is, het helde hul reg toegelaat om getuienis ter versagting te lewer.
“Watter logika het kameraad Derek Hanekom en sy geselskap gebruik om dié basiese reg te weier ... ?”
Die ANC het kort ná die mediakonferensie in ’n verklaring gesê die jeugliga het die volste reg om te appelleer, maar dit is betreurenswaardig dat hy die NTK se integriteit in twyfel trek.
“Die uitkoms van die NTK-proses se doel was nie om politieke speletjies te speel nie ...
“Enige speling daarop dat die klagte om dié rede teen hulle ingebring is en die uitkoms ‘polities’ was, het dus niks om die lyf nie.”
Malema het gesê hy het geen “gevoelens” vir pres. Jacob Zuma nie omdat hulle ’n politieke verhouding het, maar dat die jeugliga hom as president van die ANC steun.
Hy het gesê hy sal “nooit uit die jeugliga bedank nie” en het die openbare beskermer (OB) en die Valke uitgedaag om bewerings van korrupsie teen hom te bewys.
“Laat hulle my toesluit oor hul politieke agendas. Ek sal tronk toe gaan en ek sal weer terugkom.
“As jy die jeugliga wil vernietig oor Malema, dan is jy verkeerd, want dan vernietig jy eintlik die nalatenskap van Mandela.”
Die jeugliga het tot 24 November om appèl aan te teken by die ANC se nasionale tug-appèlkomitee.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld