Malema se groot geheim
2011-07-24 07:00
Adriaan Basson en Piet Rampedi, Media24-ondersoeke
Johannesburg - Julius Malema, omstrede ANC-jeugligaleier, het die hof Saterdag vergeefs gevra om te keer dat Rapport en City Press inligting publiseer oor ’n geheime familietrust waarheen “skenkings” deur sakelui na bewering gekanaliseer word.
Twee onafhanklike bronne wat met Malema se finansies vertroud is, het gesê Malema en sy weldoeners gebruik die trust om sy pierewaaier-leefstyl te finansier. Volgens hulle word “duisende rande” gereeld in die trust gestort.
’n Sakeman in Malema se vriendekring sê hy het R200 000 in die trust inbetaal nadat Malema hom gehelp het om ’n regeringstender te kry. Hy weet glo van nog minstens 20 sakemanne wat dit ook al gedoen het.
Die Ratanang-familietrust, genoem na Malema se vyfjarige seun, is op 13 Mei 2008 by die hooggeregshof in Pretoria geregistreer. Dit is vyf weke nadat hy die ANC-jeugleier geword het.
’n Ondersoek deur Rapport se susterskoerant City Press wys dat die trust sowat ’n jaar gelede ’n kleinhoewe van 3,5 ha buite Polokwane vir R900 000 kontant gekoop het. Daar is geen verband uitgeneem nie op die kleinhoewe, wat deel is van die plaas Palmietfontein.
Die sakeman wat beweer hy het R200 000 in die trust inbetaal, sê hy is per SMS deur Malema opdrag gegee oor waar hy die geld moet inbetaal.
Daarna het Malema hom glo ook per SMS vir die geld bedank.
Malema ontken dat die trust gebruik word vir geldwassery, maar weier terselfdertyd om die doel daarvan – of die bankbalans – te verklap.
Malema se regspan het Saterdag gesê hy maak hom nie skuldig aan enige misdaad nie.
Adv. Viwe Notshe SC, Malema se regsverteenwoordiger, het aan die hooggeregshof in Johannesburg gesê hy ontken nie dat geld in die trust inbetaal word nie, maar dat dit nie omkoopgeld is nie.
“Hy (Malema) sê dit is bydraes vir dit en vir dat.”
Benewens om te ontken dat die trust vir omkoopgeld gebruik word, wou Malema geen verdere vrae daaroor beantwoord nie.
Regter Colin Lamont het hom egter hieroor aangespreek en gesê hy het die geleentheid om met die volle waarheid vorendag te kom.
“Die applikant (Malema) het baie vaag gereageer op die redelik omvattende bewerings (deur City Press),” het Lamont gesê. “Hy kon dit verstaan en moes in meer besonderhede daarop gereageer het.”
Van die onbeantwoorde vrae is:
- Waarvoor gebruik Malema die trust?
- Wie is die begunstigdes van die trust?
- Weet die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) van die bates en inbetalings in die trust?
- Betaal sakelui en politici geld in die trust in ruil vir tenders en politieke gewin?
Malema het die afgelope week te velde getrek teen die media se navrae oor sy weelderige leefstyl.
Malema hou vol dat hy ’n “arm man” en afhanklik van “aalmoese” is.
Die enigste keer wat daar nog in die openbaar na die trust verwys is, was in Oktober 2009 in Malema se geboortedorp, Seshego, waar ’n nuwe Baptiste-kerk gebou is. Malema het glo betaal vir die bou van die kerk ter ere van sy oorlede ma.
Pres. Jacob Zuma was teenwoordig by die inwyding van die kerk, waar hy ook die eerste keer na Malema verwys het as ’n toekomstige ANC-leier. Luidens ’n gedenkplaat by die kerk is die kerk deur die Ratanang-familietrust gefinansier.
Die ANC het dit nog nooit amptelik bevestig nie, maar gerugte doen die ronde dat Malema sowat R50 000 per maand verdien.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport