Malema se gewildheid daal drasties
2010-08-11 11:00
Pretoria – Die president van die ANC-jeugliga (ANCYL), Julius Malema, se gewildheid het oor die afgelope ses tot sewe maande drasties afgeneem, het ‘n meningsopname bevind.
Die TNS-meningsopname het sowat 2000 volwassenes in sewe metropole ondervra en bevind dat Malema se gewildheid met ‘n derde afgeneem het.
Meeste persone was van mening dat dié omstrede jeugleier nie naastenby genoeg gestraf is vir sy verskeie oortredings die afgelope tyd nie.
“Selfs onder die jeug het Malema se gewildheid heelwat gedaal,” het TNS in ‘n verklaring bekend gemaak.
Sowat 21% van volwassenes in die metropole deel Malema se sienings. Hierdie persentasie het verlede jaar November op 27% gestaan.
Op daardie stadium was 59% van mening dat dissiplinêre stappe teen Malema geneem moet word.
Die nuutste studie, wat kort voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi gedoen is, het getoon dat slegs 26% voel dat hy genoeg gestraf is.
Sowat 53% het ingestem dat Malema verder gedissiplineer moet word en 21% het geantwoord “ek weet nie”.
“Daar was ook ‘n groot verskil onder rasse. Onder die swart mense het slegs 30% (voorheen 38%) hom ondersteun, 61% (voorheen 46%) het hom nie ondersteun nie en 8% wou nie antwoord nie.”
Tussen die ander rasse het syfers ook drasties gedaal. Onder wit mense het ondersteuning vir Malema vanaf 8% na 5% gedaal. Bruin mense se ondersteuning vir die jeugleier het vanaf 11% na 4% geval.
Malema se grootste ondersteuning kom vanaf swart mans (33%) en swart vroue (27%) maar beide het afgeneem sedert die vorige meningsopname.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA