Malema sê daar’s ’n prys van R1 miljoen op sy kop
2011-08-03 07:19
Julius Malema, ANC-jeugleier, beweer iemand binne die ANC is R1 miljoen aangebied om hom dood te maak.
Hy het gister op Talk Radio 702 gesê hy het lyfwagte aangestel omdat sy lewe bedreig word.
Volgens Malema moes die polisie se bomeenheid sy huis al twee keer deursoek nadat hy doodsdreigemente ontvang het.
Malema was ’n uur lank ’n gas in 702 se ateljee.
Hy het ontken dat hy verantwoordelik is vir verdeeldheid in die land.
“Die land is op die oomblik verdeeld as gevolg van die korrupte apartheidstelsel. Dit is ongelykheid wat verdeeldheid veroorsaak.”
Volgens hom is die nasionalisering van die mynbedryf, die herverdeling van grond en gehalte-onderrig die antwoord om ongelykheid uit te wis.
Hy het ontken dat hy ’n kapitalis is omdat ’n kapitalis volgens sy definisie “iemand is wat produksie beheer”.
Volgens Malema moet wit mense dit nie persoonlik opneem as hy sê “alle wit mense is diewe” nie omdat dié beskuldigings nie op individue gemik is nie.
Aan ’n luisteraar wat hom daarna uitgevra het, het hy gesê: “Kolonialiste en setlaars het ons grond gesteel. Hulle het dit met geweld afgeneem...
“Jy hoef dit (sy kommentaar) nie altyd persoonlik op te neem nie. Ontspan. Sit.”
Malema wou nie vrae oor die bou van sy nuwe huis beantwoord nie. “Dit is ’n kwessie wat mense moet respekteer en my my privaatheid gun,” het hy gesê.
– Volg nuus24 op Twitter.
- Beeld