Malema se bates opgeveil
2013-02-21 10:34
Johannesburg – Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, se bates sal Vrydag onder die hamer kom, berig The New Age.
Adrian Lackay, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê die SAID het beslag gelê op 'n plaas en Malema se ander bates.
"Ja, stappe is gedoen teen Malema, want hy skuld die SAID R16,1 miljoen. Ek kan nie die waarde van sy bates bekendmaak nie, maar ek kan bevestig dat dit sy plaas insluit.
"Ons het 'n hofbevel en ons gaan nou die bates opveil om die agterstallige bedrag te verhaal," het Lackay gesê.
Intussen het prokureurs van Brian Kahn Attorneys Woensdag gesê hulle verteenwoordig nie meer die voormalige leier van die ANC-jeugliga nie.
Besonderhede oor hoekom die firma hom aan Malema se saak onttrek het, is vertroulik, het die prokureur Nicqui Galaktiou gesê.
"Ons het hom nie 'gelos' nie. Ons tree nie meer namens Malema op nie."
Galaktiou het vroeg in Februarie gesê die firma het 'n opdrag ontvang om dokumente teen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se aansoek om Malema te sekwestreer, in te dien.
Malema het tot 18 Februarie kans gehad om die SAID in kennis te stel of hy die aansoek gaan teenstaan.
Volgens koerantberigte het Malema nie die sperdatum gehaal nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA