'Malema se aksies lei tot sensuur'
2010-04-09 04:19
Johannesburg – Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, se verbale aanval op die BBC-joernalis kom op sensuur neer, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) Donderdag gesê.
Die omstrede leier het die joernalis Jonah Fisher uit ‘n perskonferensie uitgejaag en hom ‘n “bliksem en ‘n bleddie agent” genoem.
Fisher het glo probeer om ‘n vraag vir Malema te vra terwyl hy gepraat het.
“Dis heeltemal onaanbaarvaar om joernaliste op dié manier te hanteer omdat hulle net hul werk doen deur ‘n sterk vraag te vra,” het die forum in ‘n verklaring gesê.
Om joernaliste wat ongemaklike vrae vra by ‘n perskonferensie uit te jaag, kom op sensuur neer, het die forum gesê.
Thabo Leshilo, Sanef se voorsitter van mediavryheid, sê die forum het beswaar gemaak teen die feit dat Malema die joernalis gevloek het.
Leshilo het gesê joernaliste moet dalk in die toekoms uitnodigings na die jeugliga se perskonferensies weier.
- Sapa