Malema se aapdans-uitlating oortree etiese kode, sê OVK
2011-04-05 09:15
Pretoria - “Is Julius die tipe leier wat julle vir Suid-Afrika se jeug soek? Julle moet mooi dink.”
Só het Mbali Ntuli, DA-jeugleier, die ANC se jeug Maandag gewaarsku in reaksie op Julius Malema, ANC-jeugleier, se uitlating waarin hy Helen Zille, DA-leier, met ’n aap vergelyk het.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag bevestig Malema het met dié uitlating die verkiesing se etiese kode oortree.
Malema het Zille nie op haar naam genoem nie, maar het die naweek luidens berigte in Sowetan en The Star by ’n ANC-byeenkoms in Polokwane gesê: “Het jy al ooit ’n lelike vrou in ’n blou rok soos ’n aap gesien dans omdat sy stemme soek?”
In dieselfde asem het Malema die manier waarop die DA die Wes-Kaap regeer, gekritiseer.
“Wie het oop toilette vir bruin mense in die Wes-Kaap gebou? Dit was nie die ANC nie, maar die DA,” het hy gesê.
Ntuli het Maandag aan Die Burger gesê die DA “sal nie tot sy vlak daal nie”. “Sy uitlating spreek boekdele oor sy mentaliteit, as ’n dans die laaste uitweg is wat hy kan vind om die DA te kritiseer. Dis weer eens ’n bewys dat hy nie oor die ware kwessie – dienslewering – praat nie.”
Ntuli meen dié “walglike” uitlating “is glad nie goed vir nasiebou of die bevordering van demokrasie nie”. Met die ANC-jeugliga se presidensiële verkiesingskonferensie om die draai het Ntuli gesê die jeug moet mooi dink oor of Malema die regte leier is. “Is hy regtig die tipe leier wat julle vir die jeug van Suid-Afrika wil hê? Dit is ’n belangrike posisie en hy mors elke geleentheid wat hy het.”
Nkaro Mateta, provinsiale verkiesingsbeampte van die OVK in Limpopo, het Malema se uitlating as “karaktersluipmoord” bestempel en gesê: “Dis teen die goeie gees van die (OVK se) etiese kode.”
Die OVK sal egter net kan ondersoek instel of optree as ’n amptelike klag daaroor by hom ingedien word.
Terwyl Zille se woordvoerder laat weet het sy gaan nie kommentaar lewer nie, het Gareth van Onselen, die DA se verkiesingskommunikasiehoof, gesê die party sal nie by persoonlike aanvalle betrokke raak nie. “Die DA se verkiesingsveldtog is ontwerp om positiewe, proaktiewe boodskappe oor ons party se dienslewering aan Suid-Afrikaners te kommunikeer.”
Jackson Mthembu, die ANC se nasionale woordvoerder, wou hom ook nie daaroor uitlaat nie. Hy het gesê die ANC sal enige leier, met inbegrip van Malema, ondersteun wat deur die ANC-jeug verkies word.
- Die Burger