'Malema se Kaapse kospakkies níé geskenk'
2009-12-10 13:11
Johannesburg - Kospakkies wat in die Kaap deur Julius Malema, die president van die ANC-jeugliga, uitgedeel is, is nié deur die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) geskenk nie, het die ministerie van maatskaplike ontwikkeling gesê.
Zanele Mngadi, woordvoerder, het dit duidelik gestel dat die kospakkies nie deur die regering geskenk is nie, maar wel aan minister Edna Molewa deur privaat maatskappye gegee is.
Dit volg na opposisie-partye kapsie gemaak het teen Malema se oorhandiging van kospakkies by ‘n Wêreld-vigsdag byeenkoms in Philippi. Hierdie geleentheid was deur die regering gereël.
Mngadi het gesê Molewa was veronderstel om die kospakkies self uit te deel, maar kon die byeenkoms nie bywoon nie.
Paseka Letsatsi, woordvoerder van Sassa en ’n uitvoerende lid van die jeugliga, het Donderdag gesê dat die items wat uitgedeel was, nie kospakkies was nie, maar "geskenkpakkies".
Letsatsi het ook ontken dat Malema al die kospakkies self uitgedeel het.
- Sapa