Malema sal hof toe oor liedjies
2011-01-24 07:07
Johannesburg – Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, is bereid om konstitusionele hof toe te gaan “om die revolusionêre bevrydingsliedere wat aan die land behoort, te beskerm”.
Malema het Sondag in Boksburg ná die nasionale uitvoerende komitee van die liga se lekgotla gesê vryheidsliedere sal nooit weer verbied word nie.
Hy het gereageer op vrae oor die burgerregte-inisiatief AfriForum se Stop Malema-veldtog en die komende hofsaak waarin hy binnekort gepak word.
AfriForum het verlede jaar ’n tydelike interdik teen Malema verkry wat hom verbied om ’n lied met die woorde “Dubul’ ighunu” (skiet die Boer) te sing.
Malema het gister vurig verduidelik dié lied behoort aan die ANC en dat dit deel van hul kultuur en erfenis is.
Hy het gesê hy sal AfriForum met hand en tand beveg en dat geen hof die lied sal verbied nie.
“Die lied gaan oor die doodmaak van ’n stelsel. Apartheid.
“’n Stelsel van neersien op andere en ’n stelsel waar die minderheid als besit,” het hy gesê.
Volgens Malema behoort daar eerder ’n nasionale debat oor die lied gevoer te word.
Hy het bygevoeg AfriForum gaan net hof toe sodat Beeld oor hulle kan skryf.
Volgens Malema skryf Beeld net vir ’n sekere groep mense en is dit nie ’n koerant wat byvoorbeeld oor swart ontwikkeling skryf nie.
Oor die lekgotla het hy gesê die slotsom was dat verlede jaar uiters suksesvol was met die intensifisering van politieke programme om ekonomiese vryheid in die jeugliga se leeftyd te bereik.
Hy het gesê die nasionalisering van myne is ferm op die agenda van die ANC en daar word reeds gekyk hoe Suid-Afrika ten beste eienaarskap en beheer van myne en minerale hulpbronne kan neem.
Hy het gesê die jeugliga se veldtog vir die voorsiening van sanitêre doekies het ook nou amptelik die steun van die ANC.
Malema het voorts gesê die jeugliga is geïnspireer deur hoe jongmense op hul oproep gereageer het om “lief vir onderwys te wees”.
“Die lang toue by universiteite bevestig jongmense wil skoolgaan en kennis en vaardighede verwerf.
“Ons doen ’n beroep op die regering om massiewe beleggings te maak om universiteite en kolleges uit te brei om soveel jongmense moontlik te akkommodeer.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld