Malema sal appèldokumente indien
2012-01-16 11:31
Kaapstad – Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, en vyf ander senior lede van die liga sal Maandag dokumente by die ANC se nasionale appèlkomitee indien in 'n poging om hul skorsing uit die party tersyde gestel te kry, het RSG berig.
Die regspan wat Malema, Floyd Shivambu, Sindiso Magaqa en drie ander amptenare verteenwoordig, sal na verwagting hul betoë indien.
Die regsverteenwoordigers sal aanvoer dat die liga-leiers nie die geleentheid gegun is om getuienis ter strafversagting voor te lê nie.
Die regspan voel ook dat sommige lede van die komitee hulself moes onttrek omdat hulle voorheen in die openbaar van die liga verskil het oor grondhervorming en die nasionalisering van myne.
Hulle sal ook na verwagting kla oor Derek Hanekom, 'n komitee-lid, se gedrag tydens die verhoor, het die radiostasie berig.
Die ses is daaraan skuldig bevind dat hulle die ANC in oneer gebring en verdeeldheid binne die party gesaai het.
Volg Nuus24 op Twitter