Malema ruk op na Jansen
2009-10-29 08:02
Bloemfontein - ’n Drukgroep van die ANC-jeugliga met Julius Malema aan die voortou ruk op Bloemfontein toe om prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, vandag oor sy Reitz-besluit onder oë te kry.
Die besoek kom te midde van UV-belangegroepe wat om Jansen laer trek. Kovsie Alumni het gister in ’n verklaring die “gemeenskap” versoek om Jansen te steun “in sy pogings om van die UV ’n wêreldklas-universiteit te maak”.
Jansen se gesprek vandag met Malema en sy luitenante om 10:00 kom kort voor ’n massaprotesoptog van die ANC-jeugliga op die kampus en ander steungroepe teen “Jansen se Reitz-besluit en onvoldoende transformasie”.
Die UV beskou die Malema-ontmoeting as deel van die heropende raadpleging met belangegroepe, wat gister ingelui is met ’n gesprek met adv. Mothusi Lepheane van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, wat volgens hom nou die werkers in die Reitz-video verteenwoordig.
Thebe Meeko, Vrystaatse ANC-jeugliga-leier, is ’n lid van die Malema-afvaardiging.
Die Vrystaatse DA het gister by die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein ’n strafregtelike klag van crimen injuria teen Meeko ingedien oor sy beweerde uitspraak dat Jansen “geskiet en doodgemaak moet word omdat hy ’n rassis is”. ’n Klag van haatspraak teen hom is ook deur die DA by die gelykheidshof ingedien.
Die ander lede van die ANC-jeugliga se groep is Pule Mabe (tesourier), Floyd Shivambu (nasionale woordvoerder) en plaaslike lede.
Kovsie-Alumni het namens UV-alumni in ’n verklaring “skok en verbasing” oor die heftige kritiek teen Jansen uitgespreek.
Naudé de Klerk, voorsitter, het gesê politieke opportuniste wat slegs die Reitz-aankondiging kritiseer en nie die inhuldigingstoespraak kontekstualiseer nie, dra by tot massapolarisering, wantroue en agterdog.
“Dit staan in skrille kontras met die rektor se boodskap van versoening, vrede en hoop.”
Kovsie-Alumni verwelkom ook die hervatting van raadpleging. “In die finale instansie moet remediërend opgetree word teenoor nege mense wie se lewens ingrypend verander het, naamlik vyf swart werkers en vier wit studente.”
Oudstudente, ouers en ander belanghebbendes word versoek om “kollektief” die take op te neem wat Jansen reeds geïdentifiseer het.
Aartsbiskop Thabo Makgoba, hoof van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika, en dr. Allan Boesak, Cope-leier in die Wes-Kaapse provinsiale parlement, het ook hul steun aan Jansen toegesê. Die UV-raad steun hom ook onomwonde.
Cope se nasionale studentebeweging het Meeko se beweerde uitspraak ook gister veroordeel.
Die beweging meen Jansen het gefouteer deur die interne Reitz-klagte sonder “breë konsultasie” te laat vaar, maar leierskap getoon deur die heroopstelling daarvan. Almal moet dié kans benut om met hom te praat.
- Die Burger