Malema rand glo reservis aan
2009-09-22 08:39
Johannesburg - ‘n Aanrandingsaak is amptelik teen Julius Malema, die leier van die ANC Jeugliga (ANCYL), geopen.
“Die saak is Maandag by die Bramley polisiestasie aanhangig gemaak,” het supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder in Gauteng, gesê.
“Die saak sal nou ondersoek word en dan na die senior staatsaanklaer gestuur word sodat hy ‘n besluit daaroor kan neem.”
The Star het Maandag berig dat Malema se buurman aangerand is tydens ‘n partytjie by die jeugleier se huis in Sandton, Johannesburg.
Volgens dié koerant het die buurman, wat ook ‘n reservis in die polisie is, ‘n saak by die polisiestasie in Sandton oopgemaak.
Die ANCYL se woordvoerder, Floyd Shivambu, is egter van mening dat daar teen Maandagoggend nog geen klagtes teen Malema gemaak is nie.
Malema is nou oortuig dat die nuutste aantygings teen hom deel is van ‘n "komplot" om hom en sy politieke loopbaan te kelder.
“Dit is Helen Zille (leier van die DA) wat haar spioene gestuur het,” het Malema glo gesê.
Hy het The Star ook gekritiseer vir die feit dat hulle die storie gepubliseer het nadat hulle inligting vanaf ‘n anonieme bron ontvang het.
“Ek sal nie aandag gee aan hierdie ongegronde bewerings nie,” het Malema gesê.
– Sapa