Malema 'onbehoorlik bevoordeel' uit tenders
2012-10-10 15:24
Pretoria – Adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het Woensdag bevind dat die toekenning van 'n tender aan On-Point Engineering, wat verbind word met Julius Malema, onwettig was.
"Die tender, wat deur die departement aan On-Point toegeken is, was onwettig, onvanpas en kom neer op wanadministrasie," het Madonsela gesê.
Sy het bevind dat On-Point en Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, onbehoorlik deur die kontrak bevoordeel is.
Malema se sakevennoot, Lesiba Gwangwa, is die hoof- uitvoerende beampte van On-Point.
Madonsela het haar bevindings in 'n verslag oor korrupte praktyke in Limpopo, getiteld, "On the Point of Tenders", uiteengesit.
Sy het bevind dat die departement nie die korrekte riglyne gevolg het in die toekenning van die tender nie.
Madonsela het in Julie 2011 drie klagtes ontvang en besluit om ondersoek in te stel oor bewerings dat die departement van paaie en vervoer die tender op 'n korrupte wyse aan On-Point toegeken het.
Bewerings dat Malema sy politieke posisie gebruik het om die toekenning van tenders deur die departement en die Limpopo-regering in die algemeen te beïnvloed, is ook ondersoek.
Madonsela het ook probeer vasstel of Malema se Ratanang-familietrust en/of Malema onbehoorlik uit die tender, wat aan On-Point toegeken is, bevoordeel is.
Die totale bedrag wat deur die departement aan On-Point betaal is, het aan die einde van Junie 2012 op R43 868 900 gestaan.
Madonsela het Ntau Letebele, hoof van die departement van paaie en vervoer, skuldig bevind aan wanadministrasie, wat verband hou met sekere tenderprosedures, berig OFM.
Sy het verder gesê Letebele se toekening van 'n tender aan On-Point Engineering was onbehoorlik en dat die departement twee keer vir dieselfde diens betaal het.
Madonsela het gesê sy weet nie hoe die departement nie ongerymdhede omtrent On Point se tender kon raaksien nie.
Gwangwa, Malema se vennoot, het aan Madonsela erken dat On-Point Engineering gestig is vir die tender ter waarde van R40 miljoen.
Madonsela het verder bevind dat On-Point Engineering tussen November 2010 en Mei 2012 meer as R2 miljoen aan die Ratanang-familietrust betaal het.
– Volg Nuus24 op Twitter