Malema nie nou al geskors
2012-02-06 15:00
Johannesburg – Julius Malema se skorsing sal eers in effek tree wanneer al die dissiplinêre prosesse afgehandel is, het die ANC Maandag bevestig.
“Daar moet geen verwarring wees nie. Ons het besluit om alles uit te stel totdat die proses voltooi is,” het die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
“As ons wetties wou wees sou die 2010 skorsing in werking getree het, maar ons sal twee weke wag vir die pleit om versagting. Om die proses uit te stel maak deel uit van sekere politieke oorwegings en nie wetlike oorwegings nie.”
Mantashe het gepraat nadat die party sy eerste nasionale uitvoerende komitee-vergadering vir die jaar gehou het.
Hy het geweier om kommentaar te lewer oor die proses wat die ANCYL sal volg om ‘n nuwe leier te vind sodra die pleit om versagting voltooi is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA