Malema nie jammer oor joernalis
2010-04-09 06:19
Johannesburg – Die ANC Jeugliga-leier Julius Malema het Donderdagaand gesê hy is nie jammer oor sy gedrag tydens ‘n perskonferensie toe hy ‘n BBC-joernalis uitgejaag het en beledig het nie.
"Ons is nie jammer oor ons standpunt nie en sal ook nooit jammer wees as ons oneerbiedig is teenoor joernaliste nie; veral nie diegene wat van lande afkomstig is wat die integriteit en geloofwaardigheid van Afrika-leiers minag nie,” het Malema in ‘n verklaring gesê.
Malema sê Jonah Fisher, het hom uitgelok. Hy het Fisher, ‘n BBC-joernalis, uit ‘n perskonferensie uitgejaag en hom ‘n “bliksem en ‘n bleddie agent” genoem.
“Malema was besig om sy afkeur van die feit dat Zimbabwe se MDC-party die ANC Jeugliga beledig vanuit lugverkoelde kantore in Sandton terwyl dié land se burgerlikes sukkel, uit te spreek, toe ‘n wit joernalis hom in die rede geval het,” sê die Jeugliga.
Fisher het glo aan Malema gesê dat hy (Malema) dan self in Sandton woon.
Malema sê dat hy bereid is om weer met Fisher te gesels indien hy om verskoning wil vra.
“Ons deure is tog oop vir dié joernalis as hy om verskoning wil vra, en van daar sal ons besluit wat sal gebeur,” sê die verklaring.
Malema het ook sy stem dik gemaak oor die manier waarop die media oor die voorval berig het.
"Ons is ontsteld oor hoe meeste publikasies ‘n verdraaide prentjie van wat gebeur het, geskep het. Hull laat dit oorkom asof ons reaksie nie deur die joernalis uitgelok is nie,” sê Malema.
Malema sê die Jeugliga sal vryheid van spraak en die vryheid van die media verdedig maar dat dit binne seker perke toegepas moet word.
“Ons respekteer die regte van joernaliste om openlik oor enige kwessie van hul keuse te praat maar hulle moet nie oneerbiedig wees nie,” meen hy.
- Sapa