'Malema 'n verleentheid vir SA'
2010-02-12 17:00
Kaapstad - Die Inkatha Vryheidsparty het Vrydag die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema gelooi oor sy opmerkings oor die IVP en oudpres. F.W. de Klerk.
Die party het ook die moontlikheid van regsaksie opgebring.
"Die IVP wil sy verontwaardiging op rekord plaas met die opebare aanval deur...Malema Donderdag teen... De Klerk en die IVP," het Velaphi Ndlovu, nasionale ondervoorsitter van die IVP, gesê.
Malema het glo gesê de Klerk het "die IVP geborg om te moor...ons moet hom nooit met Nelson Mandela vergelyk nie. De Klerk sal 'n apartheidsleier bly".
Ndlovu het gesê op 'n dag waar die historiese vrylating van Mandela herdenk word en die toewyding aan nasiebou herbevestig word, het Malema weer "alle pogings om versoening verwoes deur sy ongegronde, rassistiese aanval teen mnr. De Klerk en die IVP".
"Sy opmerkings, 20 jaar na die vrylating van Madiba, is teenstrydig met Madiba se visie van 'n verenigde, versoende Suid-Afrika en 'n duidelike aanduiding dat die ANC nie meer deur Madiba se visie en beginsels gelei word nie."
"Malema hits ontevredenheid onder Suid-Afrikaners aan; hy is 'n bedreiging vir ons jong demokrasie en 'n verleentheid vir ons land," het Ndlovu gesê.
Ndlovu het gesê die IVP gaan nie langer terugsit en Malema en sy jeugliga-makkers toelaat om die IVP aan te val nie.
"Die ANC se stilte oor die saak spreek boekdele; maar ons gaan nie langer Malema se gedrag duld nie. Ons het oor en oor gesê dat hy gedissiplineer moet word. Ons doen 'n beroep op die ANC om hom vas te vat of ons gaan die FW de Klerk-stigting aanmoedig om saam met ons regsadvies in te win oor die saak."
– Sapa