'Malema moet vasgevat word' - VF+
2009-10-05 12:28
Johannesburg- Die VF+ het nou genoeg gehad van Julius Malema, leier van die ANC Jeugliga (ANCYL), se uitsprake en dreig om hom by die Menseregtekommissie te gaan aankla.
Dié party sal nou ‘n regsmening formuleer op grond van die ANC se party-grondwet en beleidsdokumente waarvolgens Malema en die jeugbestuur glo die ANC reëls oortree en binne die ANC se strukture aangekla behoort te word.
Die regsmening sal aan die ANC se leierskap voorgelê word vir verdere aksie, by gebreke daarvan sal die VF+ die ANCYL by die Menseregtekommissie gaan aankla vir haatspraak en aanhitsing van rassisme.
Volgens adv. Anton Alberts, VF+ parlementêre woordvoerder oor sport, is dit nou nodig om nie net Malema nie, maar die hele jeugbestuur in die naam van vrede en rasse-harmonie in Suid-Afrika, formeel te dissiplineer.
Die VF+ se reaksie volg op uitsprake van Floyd Shivambu, die ANCYL se woordvoerder, wat volgens Rapport gesê het dat die meeste wit mense rassiste is en dat hulle nie die oorwinning van Caster Semenya vier nie omdat sy nie wit is nie.
“Hy voeg hiermee sy uitsprake by dié van Malema wat deurlopend nog rondom die voorval agterdog en verdeeldheid saai en rasse-polarisasie aanstig,” het Alberts gesê.
“Wit mense in Suid-Afrika raak al hoe meer bekommerd oor die roekelose uitsprake van die ANC-jeug en begin al hoe meer onveilig voel. Die klanke wat hierdie jongmense maak lyk al hoe meer soos die amptelike uitsprake van die ANC self en dit is nou tyd vir die ANC om duidelik en ferm aan te dui wat hulle standpunt oor die plek van wittes in Suid-Afrika is,” het Alberts gesê.
Die VF+ is daarvan oortuig dat die meeste wittes nie rassisties georiënteerd is nie, maar dat daar wel 'n wit/swart-polarisasie begin opbou onder die oënskynlike leierskap van Malema en sy juigkommando.