Malema maak reg vir 'lewe in tronk'
2012-02-11 08:30
Johannesburg – “Ons is besig om ons voor te berei vir ’n lewe buite die ANC en moontlik in die tronk,” het Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, Vrydag gesê.
Hoewel hy dit sy “afskeidstoespraak” genoem het, het hy gesê die jeugliga sal bly voortveg.
“Net die jeug van die ANC kan die mandaat en verantwoordelikheid wat aan ons toevertrou is van ons wegneem.
“Ons sal leiding en instruksies net van die jeugliga aanvaar.”
Malema het volgehou hy is onskuldig op alle aanklagte teen hom en dat sy tugsaak polities gemotiveerd was.
“Sommige in die ANC dink deur van my ontslae te raak, sal hulle die kwessie van nasionalisering kan onderdruk en ook verseker hulle word as leiers herkies.
“Die enigste ding waaraan ons skuldig is, is dat ons oor nasionalisering en grondonteiening gepraat het.
“Ons is skuldig bevind omdat ons gedink het.
“Leiers soos Oliver Tambo en oudpress. Nelson Mandela en Thabo Mbeki het nie ANC-lede geskors omdat hulle vrae gevra het en debat aangeroer het nie,” het Malema gesê.
Malema het die jeugliga aangeraai om voor te berei vir “die stryd” wat voorlê.
“Vryheidsvegters moet voortveg, selfs al word sommige van ons geskors. Geen vorm van intimidasie en onderdrukking sal die stem van die jeug stilmaak nie.”
Laatmiddag het adj.pres. Kgalema Motlanthe gesê die jeugliga is ondergeskik aan die ANC-grondwet en -beleidsraamwerk, maar die ANC moenie “koue water” oor sy eie militantheid en radikale kultuur gooi nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld