Malema-lyfwag dalk deel van transitorooftog
2011-07-27 09:00
Kaapstad - Die polisie is besig met ’n ondersoek na een van die flambojante lyfwagte wat Julius Malema, ANC-jeugleier, tydens sy haatspraak-verhoor opgepas het.
Adriaan Snyman (29), ’n voormalige direkteur en stigter van Tactical Security Services in Durban, se vingerafdrukke is by die polisie se misdaadrekordsentrum om vas te stel of hy wel met die beplanning van ’n transitorooftog in 2007 verbind word.
Die Wet op die Regulering van die Private Veiligheidsbedryf bepaal iemand met ’n misdaadrekord óf wat met ’n ernstige misdaad verbind word, mag nie as ’n diensverskaffer by die reguleringsowerheid (Psira) geregistreer wees nie.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het Dinsdag in antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, gesê Snyman se registrasie by Psira kan opgeskort word as die uitslag van die vingerafdrukke bevestig dat hy wel met ’n ernstige misdaad verbind word.
Die nuusdiens IOL het onlangs berig Snyman en twee ander verdagtes het op 8 Junie vanjaar in die streekhof in Durban verskyn op aanklag dat hulle die SBV-veiligheidsmaatskappy in 2007 van miljoene rande wou beroof deur ’n transitorooftog na te boots. Snyman het in daardie stadium by SBV gewerk. Hy ontken skuld in dié verhoor, wat volgende maand hervat word.
Snyman en sy kollegas van Tactical Security Services het in April buite die gelykheidshof in Johannesburg die kollig met hul rooi dasse, swart pakke en aanvalsgewere gesteel. Hulle was selfs in die hofsaal om Malema op te pas en is later deur regter Collin Lamont beveel om die vertrek te verlaat.
Daar is toe wyd bespiegel oor wie die lyfwagte is en wie vir hul dienste betaal.
Volgens Mthethwa het Snyman op 20 Oktober 2004 by Psira as ’n veiligheidswag geregistreer en het hy in daardie stadium nie ’n misdaadrekord gehad nie. Sy maatskappy, Tactical Security Services, is op 10 November 2008 by Psira as ’n diensverskaffer geregistreer.
Psira het egter na aanleiding van berigte in die media die polisie versoek om Snyman se vingerafdrukke met dié van verdagtes en veroordeelde misdadigers te vergelyk.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger