Malema lei jeugliga-vergadering in Benoni
2011-11-12 14:30
Johannesburg – Die afgedankte president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het 'n vergadering van die liga se nasionale uitvoerende komitee in Benoni gelei.
Malema, wat vyf jaar geskors is nadat die ANC se tugkomitee hom skuldig bevind het op aanklag dat hy die party in oneer bring, het saam met lede van die uitvoerende komitee gedans en gesing.
"Maak nie saak hoe moeilik dit is nie, ons gaan Mangaung toe al word ons geskors," het die lede in isiZulu gesing.
Die geslote vergadering is glo geroep om die jeugliga se reaksie op Malema se skorsing te bespreek.
Tydens 'n fotogeleentheid het leiers van die uitvoerende komitee hul planne vir volgende jaar se Manguang in sang uitgestippel.
"2012 siVota Mbalula, siVota Kgalema," het hulle gesing.
Die jeugliga wil hê Fikile Mbalula, minister van sport, moet Gwede Mantashe as die ANC se sekretaris-generaal vervang.
Mbalula is 'n voormalige president van die ANC-jeugliga.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA