Malema laat Diepsloot-inwoners wag
2011-10-22 14:55
Johannesburg – Ongeveer 1 000 mense het Saterdagoggend vir die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, by die Diepsloot-ontspanningsentrum noord van Johannesburg gewag.
'n Groep jongmense het naby 'n verhoog gesing en gedans. Die meeste van die liedjies was ter ondersteuning van kommunisme en teen die mishandeling van vroue.
Malema sou na verwagting vroegmiddag sy opwagting maak om inwoners in te lig oor die jeugliga se beplande optogte volgende week, maar hy was nie betyds nie.
Plaaslike kunstenaars het intussen die toeskouers besig gehou met optredes van hul trefferliedjies.
'n Paar kinders was ook onder die groep wat die saal volgepak het.
Polisiebeamptes is in die gebied ontplooi.
Malema sou die groep toespreek om ondersteuning te kry vir jeugliga-optogte op 27 en 28 Oktober.
Jeugligalede sal by Beyers Naude-plein, die Kamer van Mynwese in Johannesburg, die Johannesburgse aandelebeurs in Sandton en die Uniegebou in Pretoria bymekaarkom.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA